
Johan
de Villiers, professor in wiskunde aan die Universiteit van Stellenbosch
en stigter van die Libertaskoor, is sedert 1989 die koor se dirigent.
Sy besielende leiding, unieke karaktereienskappe en buitengewone
bekwaamhede, onder meer koorafrigting en die uitvoering van koormusiek,
geniet wêreldwye erkenning en aansien.
Johan se vader, Dirkie de Villiers, was die voormalige hoof
van musiek van die Vrystaatse Onderwysdepartement en sy oupa,
M.L.
de Villiers, het in 1920 die “Die Stem van Suid-Afrika” gekomponeer.
In 1995 het Johan op 'n kommissie gedien wat vir die nuwe Suid-Afrikaanse
volkslied verantwoordelik was.
Nadat Johan aan Grey Kollege, Bloemfontein gematrikuleer het,
het hy vanaf 1966 -1970 aan die Universiteit van Stellenbosch
gestudeer waar sy hoofvakke wiskunde, toegepaste wiskunde en
fisika was. As student het hy in die Stellenbosch Universiteitskoor
onder leiding Philip McLachlan gesing en ook klavierlesse by
John Antoniades geneem. In Desember 1970 vertrek Johan en sy
vrou, Louwina Oosthuizen, na Cambridge in Engeland waar Johan
vir drie jaar navorsing in wiskunde doen met 'n Sir Henry Strakosch
Memorial-beurs. In Maart 1974 behaal hy 'n PhD graad in Wiskunde
aan die Universiteit van Cambridge.
Vir die volgende 29 jaar sit Johan sy akademiese loopbaan aan
die Universiteit van Stellenbosch voort as senior lektor van
1974 -1982, medeprofessor in die departement toegepaste wiskunde
van 1982 -1989, en sedert 1989 tot tans professor in die departement
wiskunde.
Sedert 1974 het Johan, benewens sy akademiese loopbaan, as koordirigent
uitgeblink. Van 1974 tot 1976 was hy die dirigent van saamgestelde
koshuiskore by die jaarlikse Stellenbosch Sangfees en is daarna
aangestel om Philip McLachlan as dirigent van die Stellenbosch
Universiteitskoor op te volg. Hy beklee hierdie posisie vir agt
jaar van 1977-1984. In 1983 het die Stellenbosch Universiteitskoor
onder leiding van Johan die eerste prys in die SATV-kompetisie
vir universiteits- en kollegekore gewen.
Johan het by verskeie instellings in die VSA, soos die North-Western
Universiteit in Evanston, Illinois (1976), die New England Conservatory
of Music in Boston en die Universiteit van Wisconsin, Madison
(1980) uitgebreide navorsing oor koorafrigting en dirigeertegnieke
gedoen.
Johan se vrou, Louwina, is die koor se voltydse bestuurder.


|