Die koor is gereed; die ramshoring weerklink; die Libertaskoor breek mure af...
Die Stellenbosch Libertaskoor o.l.v. Johan de Villiers het nog nooit terug gestaan vir ‘n uitdaging nie. Toe die voorstel van ‘n musiekblyspel (‘n eerste vir die koor) dus voorgelê word, het hulle soos die Israeliete van ouds saamgespan om dit te laat werk.
Gerhard Niemand se verwerkings van verskeie ligte en klassieke musiek het die koor gou opgewonde gehad. Hul eerste ontmoeting met Jacci de Villiers, die regisseur het groot afwagting geskep. En toe hulle later hoor dat hulle die verhoog saam met groot name soos Anna-Mart van der Merwe, Gys de Villiers, André Howard en Nqobile Sipamla gaan deel, kon geen stadsmuur hulle keer nie.
Januarie vanjaar het die groot oefen begin: ure het dae geword; bekende name, geliefde gesigte; ‘n Bybelverhaal, realiteit. Die storie van die onderdrukte Israeliete wat uit Egipte vlug na die beloofde land, loop parallel met die onderdrukking in ons wêreld vandag. Die smaak van vryheid in die land Kanaan word die vryheid van apartheid, haat en onderdrukking. Deur dit alles heen bly eggo die naam van God, Yahweh, uit die monde en in die harte van die koor. Hoe kan dit dan ook anders met musiek soos Bawo, Thixo Somandla, Handel se “He gave them hailstones”, Dan Heyman se “Weeping”, Laurika Rauch se “Hot Gates” en vele meer.
Jericho! open die 18de Maart by die Oude Libertas Amfiteater op Stellenbosch en duur tot die 21ste. Daar is ook twee optredes die eerste naweek van die KKNK.
- Vera Bestbier (Alt) |